(Foto: De Wet Ras, een van die oud-Springbokke wat aan die groot gholfdag op 13 Oktober gaan deelneem (links), en Tom Ferreira (regs), wat ‘n handjie bysit met die gholfdag se reëlings, saam met die oud-Springbokslot Juandré Kruger tydens ‘n gholfdag-dinkskrum by De Zalze.)

Verskeie oud-Springbokke, onder wie legendes soos Morné du Plessis, Dawie Snyman en De Wet Ras, is onder die spelers wat op 13 Oktober by De Zalze buite Stellenbosch aan die Cheetahs-rugbytrust en die Toyota US Woordfees se gholfdag gaan deelneem.

Die opbrengs sal verdeel word tussen die Cheetahs-trust en die Toyota US Woordfees. Dit is die eerste keer in Suid-Afrika dat sport en die kunste tot wedersydse voordeel hande vat.

Du Plessis en Snyman het in 1966 as leerlinge van Grey-kollege in Bloemfontein saam vir die skool se eerste span gespeel en in die jare sewentig saam vir die Springbokke uitgedraf. Du Plessis, wat ook die Springbokspan se bestuurder was toe hulle in 1995 die Wêreldbeker gewen het, is steeds een van die land se suksesvolste Springbokkapteins. Met hom as kaptein, het die Springbokke van 1975 tot 1980 dertien van hul vyftien toetse gewen.

Dawie Snyman het ná sy uittrede as speler ook as afrigter naam gemaak. Met hom as afrigter, het die Westelike Provinsie die gesogte Curriebeker van 1982 tot 1986 vyf keer agtereenvolgens gewen.

De Wet Ras, wat van 1974 tot 1986 in 141 wedstryde vir Vrystaat uitgedraf het, het in 1980 ‘n yslike 35 punte vir die Springbokke teen Paraguay aangeteken: die naasmeeste in ‘n Bok-wedstryd. In sy eersterangse loopbaan het Ras 2 358 punte aangeteken, wat hom by sy uittrede derde op die SA lys geplaas het.

Die bekende rubriekskrywer Blouwillem Theron sal as seremoniemeester by die prysuitdeling optree en die legendes onder meer oor hul mening oor Springbokrugby pols. ‘n Paar unieke sportitems asook kunswerke en ‘n wegbreeknaweek, sal opgeveil word.

Vir nadere besonderhede of om in te skryf en jou afslaantyd te bespreek, skakel Leone Pitts by 083 227 7501 of stuur ‘n e-pos aan leone.pitts@gmail.com. Navrae kan ook gerig word aan Tom Ferreira (tom@publc-ear.com), tel. 0832646188.