PITKOS UIT CHEETAHLAND: 125 JAAR SE LIEF EN LEED

Dit wemel van die tweelinge

Die Ebersohns-broers, Robert en Sias, is die enigste tweeling wat saam in dieselfde wedstryd vir die Vrystaat se senior rugbyspan gespeel het. Boonop het hul pa, Tiaan, ook vir die Vrystaat uitgedraf.  Robert en Sias is een van altesaam 31 pare broers wat saam in dieselfde wedstryd vir die Vrystaatse Cheetahs gespeel het.

Die broers Ebersohn

Die appel val nie ver van die Boom nie

As daar ooit ‘n Cheetah-speler was met die regte “stamboom”, dan is dit die losvoorspeler Boom Prinsloo (2010-2015). Boom se oupa, Hendrik Prinsloo (1947-48), het flank vir die Vrystaat gespeel, en Boom se pa, ook Boom, het in die 1980’s flank vir die Shimlas gespeel. Wat net weer wys dat die appel nie van van die boom val nie.

Boom Prinsloo

Só het Grey deur die jare gepresteer

Grey-kollege is die skool wat die meeste Springbokke (38) in die moderne era opgelewer het. Grey het ook verreweg die meeste spelers vir die SA Skolespan (103) gelewer, met Paarl Gimnasium in die tweede plek (37). In 1981 was ses van die sewe agterspelers in die SA Skolespan Grey-leerlinge. Dubbele Wêreldbekerwenner Frans Steyn was een van tien oud-Greys in die Springbokke se 2010-toergroep na Brittanje. Daar was ook vyf oud-Greys in 2007 se Wêreldbeker-wenspan, vyf in 1999 se groep, ses in 2011 se groep en vyf in 2015 se groep.

Grey Bokke
AJ Venter en Brendan Venter

Venters vir Afrika in die Vrystaat

Die Vrystaat se wedstryd op 14 Junie 1997 teen die Pumas in Witbank sal om drie redes onthou word:  Brendan Venter het in sy 100ste wedstryd vir Vrystaat gespeel, ‘n bloedjong AJ Venter het sy debuut gemaak en die stut Dougie Heymans het sy eerste drie in sy 83ste wedstryd vir die Vrystaat gedruk!  Vier Venters het in ‘n 2017 in ‘n paar wedstryde saam vir die Vrystaat uitgedraf:  Francois, Shaun, Henco en Reinach. Hulle is kort daarna “opgevolg” deur nóg ‘n Venter, die stut Boan (2018-2020). In 1997 se eindstryd teen die WP op Nuweland, het drie Venters vir die Vrystaat uitgedraf:  Brendan, AJ en André. Altesaam agttien spelers met die van Venter het deur die jare vir die Vrystaat en die Cheetahs uitgedraf.

Coenie Oosthuizen

Toe druk Coenie sommer drie keer!

In ‘n Curriebekerwedstryd op 16 Julie 2010 teen Griekwas op Vodacompark het die Cheetah-stut Coenie Oosthuizen drie van die Cheetahs se vyf drieë gedruk. Dit was die eerste en enigste keer dat ‘n stut drie drieë vir die Vrystaat druk sedert die stigting van die Vrystaat-rugbyunie in 1895 (daar was al ‘n vierkuns deur ‘n haker,  Richardt Strauss, in ‘n Curriebekerwedstryd in 2007 teen die Valke; en ‘n driekuns deur die haker Naka Drotské in 1996). Al drie was oud-leerlinge van Grey-kollege.

Boek nou beskikbaar

Die boek Cheetahland: 125 jaar se lief en leed is beskikbaar by Kloppers se takke in Bloemfontein, Cape Gate en Stellenbosch.  Die boek kan ook bestel word teen R500 plus afleweringskoste by info@fsrugby.co.za.